Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 9 DESEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Aangesien ZS6FCS tans besig is om sy stasie op te gradeer, sal daar vanaf vandag 9 Desember tot 23 Desember ongelukkig geen Echolink- en Internetstrome vanaf ZS6FCS beskikbaar wees nie. Die volledige diens sal weer vanaf 24 Desember beskikbaar wees.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

LISENSIEHERNUWINGSKENNISGEWINGS IS IN DIE POS – BETAAL ASB SONDER VERSUIM

GAAN JAG DIE SARL-BAKENS HIERDIE VAKANSIE

2008-KONSTRUKSIEKOMPETISIE

NUWE SARL RAE-STUDIEGIDS NOU OP DIE WEB

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

LISENSIEHERNUWINGSKENNISGEWINGS IS IN DIE POS – BETAAL ASB SONDER VERSUIM

OKOSA het laat weet dat lisensiehernuwingskennisgewings vanaf Maandag, 10 Desember, aan die betrokke lisensiehouers gepos gaan word. Lisensiegelde is voor of op 31 Desember van die huidige lisensiejaar betaalbaar maar ’n periode van grasie word tot 31 Januarie toegelaat.

Lisensiehouers word aangemoedig om te bevestig dat hul huidige posadres op die 2007 lisensie verskyn aangesien dit die adres is waarheen die hernuwings gestuur sal word. Indien jou posadres dus verkeerd aangedui word, of gedurende die afgelope 12 maande verander het, maak seker dat OKOSA van die verandering in kennis gestel is, en dat die nodige verandering aangeteken is.

Indien enige lisensie ’n uitstaande balans op 31 Julie van hierdie jaar (2007) toon, sal geen hernuwingskennisgewing uitgereik word nie en sal dit geag wees dat die lisensie op 31 Desember 2006 verval het. Indien dit die geval is beteken dit dat jy nie meer ’n lisensie het om as ’n amateur te werk nie en sal jy dus moet heraansoek doen vir ’n nuwe lisensie, terwyl jy nog aanspreeklik is vir die uitstaande bedrag. Daar is geensins ’n waarborg dat ’n nuwe lisensie wel uitgereik sal word nie of dat jou bestaande roepsein heruitgereik sal word nie, dit is derhalwe in jou eie beste belang om seker te maak dat hierdie scenario nie plaasvind nie.

Bevestiging van jou lisensiebesonderhede met betrekking tot posadres, rekeningstatus, ens., kan van enige OKOSA-streekkantoor of by die Johannesburg Hoofkantoor by onderstaande telefoonnommers bekom word, deur jou lisensie en/of roepsein te meld. Vir diegene wat die fasiliteit het kan e-pos navrae by pleonard@icasa.org.za gemaak word.

Telefoonnommers:
Johannesburg Hoofkantoor: 011-321-8200 (Vra vir die Spektrumlisensieafdeling);

Streekskantore:
Bloemfontein 051-447-3001; Kaapstad 021-595-1640;
Durban 031-275-6410; Port Elizabeth 041-396-2500.

Indien jy enige twyfel het oor die status van jou lisensie, moet nie die risiko loop dat dit gekanselleer of ingetrek kan word nie, doen navraag so gou as moontlik!

GAAN JAG DIE SARL-BAKENS HIERDIE VAKANSIE

Of jy nou tuis bly gedurende die vakansieseisoen of weggaan en ’n HF-stel saam neem, word jy uitgenooi om deel te neem aan die SARL-HMO-bakenkompetisie. Drie van die bakens ZS6SRL, ZS1HMO en ZS2LAW sal ’n spesiale boodskap uitsaai. Ontsyfer die morsekodeboodskappe en stuur verslae aan bcn@sarl.org.za. Daar is drie Kortgolf DX-handboeke om te wen en een 2007 ARRL-handboek. Die kompetisie sal in vier afdelings wees, een afdeling vir elke baken en ’n oorkoepelende een vir al drie bakens. Indien jy vir al drie afdelings ingeskryf het sal jy outomaties deelneem aan die trekking vir die 2007 ARRL-handboek.

Hoe om in te skryf: Luister op 7 023 kHz na elk van die deelnemende bakens en ontsyfer die morsekodeboodskap. Pos jou boodskappe aan bcn@sarl.org.za in die volgende formaat: bakenroepsein, datum en tyd gevolg deur die boodskap, seinverslag, jou roepsein of naam, indien jy nie gelisensieer is nie, QTH waar jy die baken se sein ontvang het en volle posadres. Stuur slegs een bakenverslag per e-pos. Indien jy nie toegang tot e-pos het nie, pos jou inskrywing aan ARMI, Posbus 90 438, GARSFONTEIN, 0042.

Vir die tydperk van die kompetisie sal die drie deelnemende bakens meer dikwels uitsaai. ’n Skedule kan op www.sarl.org.za gevind word deur te klik op “services” en “Beacon Project” te kies.

2008-KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Skryf in vir die 2008-Konstruksiekompetisie. Jy kan dalk ’n Icom ID-1 send/ontvanger, wat D-Star digitale-stem en Digitale data aanbied, wen.

Die Suid-Afrikaanse Amateuradio-ontwikkelingstrust het die finale besonderhede van die 2008-Konstruksiekompetisie bekend gemak. Dit is ’n ope kompetisie wat stelbouers uitnooi om idees voor te lê oor wat hulle vir die kompetisie wil bou.

Die item moet nuttig wees vir amateurradio en die ontwerp moet so wees dat dit tuis gebou kan word. Ontwerpe wat bedrade komponente en Vero-bord of soortgelyke metodes gebruik, sal voordeel hê.

Drie inskrywings sal gekies word en sal elk R2000 ontvang om die ontwerp te ontwikkel en ’n prototipe, vir evaluering, te bou. Die inskrywings sal die eiendom van die Trust word. Die finale waarde van die projek moet nie R500 oorskry nie en komponente moet vrylik bekombaar wees. Die projek moet in ’n aanvaarbare omhulsel wees.

Die finale inskrywings sal op die web geplaas word en elk ’n 2008 ARRL-handboek ontvang.

Die algehele wenner sal beloon word met ’n Icom ID-1 send/ontvanger wat deur Multisource Telecommunications geborg is. Die ID-1 is ’n intydse digitale send/ontvanger wat beide D-Star digitalestem en Digitale data ondersteun.

Hoe om in te skryf?
Voltooi die inskrywingsvorm in soveel besonderhede as moontlik en pos die inskrywing aan saardt@intekom.co.za. Die sluitingsdatum vir die eerste fase is 31 Maart 2008. Die drie wenners sal teen die einde April verwittig word en die finale prototipes moet teen 31 Julie ingedien wees. Die drie prototipes moet ten volle operasioneel wees en vergesel wees van ’n gedetaileerde beskrywing en ’n kringdiagram. Indien gebruik gemaak word van ’n gedrukte stroombaan moet die nodige tekenwerk ingedien word. Die wenner sal die reg hê om die boustel te ontwikkel vir sy eie of sy klub se voordeel.

Besoek www.amateurradio.0rg.za vir volle besonderhede van die kompetisie, ’n inskrywingsvorm en lees oor die D-Star ID-1 en al sy kenmerke.

NUWE SARL RAE-STUDIEGIDS NOU OP DIE WEB

Die gewysigde SARL Studiegids vir die klas A Radioamateureksamen is nou op die web beskikbaar. Die webafdeling van die RAE is ook opgradeer met besonderhede van hoe om vir die eksamen te registreer sowel as die 2008 datums. Sedert die Mei 2007 eksamen word van kandidate verwag om ’n bedryfbeoordelingsertifikaat tydens registrasie in te dien of op die laatste die dag van die eksamen.

Klubs word daaraan herinner dat hulle hul eie ZU-eksamen kan aanbied. Klubs wat aan die SARL geaffilieer is, word uitgenooi om te registreer. Volledige besonderhede is beskikbaar op die lede-afdeling van die web. Gaan na www.sarl.org.za, klik op “members” regs bo op die tuisblad en tik jou pin in. Die Highway Amateurradioklub het die eerste klub geword om gebruik te maak van hierdie fasiliteit en sal die eksamen vir die ZU-lisensie volgende week hou. Ons wens hul studente alle sukses toe.

NARS SLUIT VIR DIE VAKANSIES

Die SARL se Nasionale Amateurradiosemtrum sal vir die vakansieseisoen sluit op 14 Desember en sal weer op Maandag 7 Januarie open. Geen lisensie- of ander aansoeke kan gedurende hierdie tydperk hanteer word nie. Vir noodgevalle stuur ’n e-pos aan secretary@sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

PEARS HF-QSO-GESELLIGHEID

Vanmiddag is die PEARS HF-QSO-Geselligheid op die lug vanaf 14:00 tot 18:00 SAT. Dit is 'n foon alleen kompetisie op die bandgedeeltes 7,043 tot 7,100 en 3,603 tot 3,800 MHz. Roepseine, 'n RS-verslag en die operateur se naam word uitgeruil. Daar is vier klasse van deelname, naamlik Novice vir stasies met 'n ZU-roepsein; Beperk vir stasies met 'n ZR-roepsein; Onbeperk vir stasies met 'n ZS-roepsein en DX vir stasies buite Suid-Afrika.

Die volledige reëls is met HF Happenings 279 uitgestuur en dit is ook beskikbaar vir aflaai op die webwerf van PEARS by www.zs2pe.co.za klik op 'contests'.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees maar sal gedurende 17 tot 19 Desember aktiewe vlakke bereik.

Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die DX-toestande is goed vir die Oos-Wes paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 15 m-openinge na Australië gedurende die oggend en 20 m-openinge in die middag. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike kort, flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 80 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Saans is 80 m die beste keuse vir lokale kontakte, dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 09 Desember - PEARS HF QSO Geselligheid;
14 Desember - NARS sluit vir vakansietydperk.
7 Januarie 2008 - NARS heropen;
31 Maart – Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003